Friday 17 June 2011

Windows in Afrikaans

Hierdie is tien teen een die maklikste manier om jou rekenaar in Afrikaans te kry, en baie opwindend ook!

Ja, dit is moontlik om Windows in Afrikaans te gebruik, en nee, dit is nie moeilik om aan  gewoond te raak nie. Studies bewys dat dit voordelig is om jou rekenaar in jou moedertaal te gebruik, selfs al het jy gewoond geraak aan 'n ander taal. Ek daag jou uit om dit te probeer! Gee dit so week en dan sal selfs die Engels weer vreemd voel.
In hierdie artikel gaan ons kyk hoe om Windows 7 in Afrikaans te kry! Indien jy nog XP of Vista gebruik, kan jy hier klik vir meer inligting oor XP of hier klik vir meer inligting oor Vista.

Eerstens moet ons gou uitvind of jy tans die 32-bis-of die 64-bis-weergawe van die Windows 7 op jou rekenaar het. Indien jy weet watter een jy het, beweeg na stap 3.

  1. Klik op "Start", regs klik op "My Computer" en klik "Properties".
  2. Soek vir die "System Type" onder "System". Dit sal aandui of jou Windows 7 ’n 32-bis-bedryfstelsel of ’n 64-bis-bedryfstelsel is.
  3. Maak hierdie skakel oop.
  4. Heel onder op die webblad is daar twee lêers (LIP_af-ZA-32bit.mlc en LIP_af-ZA-64bit.mlc). Laai die regte lêer af (32bit of 64bit) deur die "Aflaailêer" knoppie langs die lêer te druk.
  5. Wag totdat die lêer klaar afgelaai is en dubbel klik die lêer in explorer. Die rekenaar sal die lêer dan outomaties installeer en jou rekenaar na Afrikaans toe verander.
  6. Herbegin die rekenaar en daar het jy dit... Windows 7 in Afrikaans!

Jy sal oplet dat jou rekenaar se horlosie en kalender nog nie in Afrikaans is nie, om dit in Afrikaans te kry, doen die volgende:

  1. Regsklik die horlosie regs onder op jou skerm en klik op "Verstel datum/tyd"
  2. Klik op "Verander datum en tyd..."
  3. Klik op "Verander kalender-instellings"
  4. Klik "Kanselleer"
  5. Onder die oortjie Formate, Formaat: kies "Afrikaans (South Africa)"
  6. Onder die oortjie Ligging, kies "South Africa"
  7. Onder die oortjie Sleutelborde en Tale, Vertoontaal, kies Afrikaans.
  8. Laastens, onder die oortjie Administratief, klik op "Verander Stelsellokaliteit..." en kies weereens "Afrikaans (South Africa)"
Indien jy versoek word, herbegin die rekenaar. En daar is jou hele rekenaar nou in Afrikaans!

Indien jy enige probleem ondervind met die installasie, kan jy gerus jou vraag hier onder as kommentaar los, of met ons in aanraking kom op die Afrikaanse klets kanaal.
Voorspoed en Geniet!
Die Span
Vertaal na Afrikaans
Geskryf deur Bernhard Breytenbach
Geredigeer deur Hügo Krüger, Ryno Coetzer en Sanel Volschenk

Friday 10 June 2011

Kry LibreOffice, 'n gratis kantoorpakket soortgelyk aan Microsoft Office, in jou moeder taal

LibreOffice 3 - Beginskerm (Klik om te vergroot)
Indien jy gereeld in Afrikaans briewe tik, skoolprojekte aanpak, sigblaaie maak of net voorleggings doen, gebruik jy tien teen een Microsoft Office vir hierdie doel. Die probleem met Microsoft Office is dat daar geen Afrikaanse weergawe is nie en ook geen Afrikaanse speltoetser beskikbaar is nie, altans nie gratis nie. As jy braaf genoeg voel om 'n nuwe brokkie sagteware te probeer, probeer gerus LibreOffice.

LibreOffice is 'n gratis oopbron pakket, geproduseer deur “The Document Foundation”. LibreOffice is gebaseer op die bekende OpenOffice pakket en lyk en werk baie dieselfde, met een verskil – meer ontwikkeling. Dit beteken beter gehalte sagteware.

Hoe om LibreOffice in Afrikaans te kry:

  1. Laai LibreOffice gratis af by http://www.libreoffice.org, of direk by http://download.documentfoundation.org/libreoffice/stable/3.3.2/win/x86/LibO_3.3.2_Win_x86_install_all_lang.exe. 
  2. Om die program in Afrikaans te gebruik, moet ons eers 'n paar veranderings maak. Tydens die installasie, by die stap "Setup Type”, kies die opsie "Custom" en klik "Next". Kies Afrikaans by die "Additional Language Packs" lys en gaan voort soos normaal. (Jy kan ook Sotho, Khoza of Zoeloe hier kies indien jy een van die ander Suid-Afrikaanse tale magtig is). 
  3. Wag tot die program klaar geïnstalleer het (ongeveer 5 minute), en begin LibreOffice Writer deur die LibreOffice ikoon op jou werkskerm (Desktop) te dubbel klik en dan LibreOffice Writer te kies wanneer dit die opsie gee. 
  4. Wanneer die sagteware oop is, klik bo op "Tools" en dan "Options". 
  5. Gaan na "Language Settings" en dan "Languages"; in die opsielys langs die opskrif "User Interface" kies Afrikaans (South Africa). Kies ook hierdie opsie in die opsielys langs "Local Setting". Klik dan op die “OK” knoppie. 
  6. Maak die program toe en weer oop. En daar het jy dit! 'n Gratis plaasvervanger vir Microsoft Office in jou moedertaal, met 'n gratis Afrikaanse speltoetser.

Let daarop dat LibreOffice dokumente in die “Open Document” formaat stoor - 'n internasionaal erkende formaat. Dit is wel moontlik om dokumente in die Microsoft Office 2003 en 2007 formaat te stoor. Kies net "Lêer" en "Stoor as" en kies dan die gekose formaat in die "Save as type" lys. Dit is handig as jy beplan om dokumente aan ander mense oor te dra of te stuur wat gebruik maak van ander sagteware. Microsoft Office 2010 kan wel die “Open Document” formaat opmaak en daarin stoor so dit is net nodig vir diegene wat gebruik maak van ouer weergawes.

Dit is ook soms moeilik om nuwe sagteware te leer gebruik. LibreOffice het ook 'n Afrikaanse "Help Pack", maar jy sal dit eers apart moet aflaai en installeer - dit kom nie saam met die program nie. Jy kan dit direk vanaf http://download.documentfoundation.org/libreoffice/stable/3.3.2/win/x86/LibO_3.3.2_Win_x86_helppack_af.exe aflaai en dan installeer.  Druk "F1" om die "Help Pack" te gebruik. Jy sal merk dat ons LibreOffice 3.3.2 gebruik en nie 3.4.0, omrede daar nog nie dokumentasie vir 3.4.0 beskikbaar is nie.

Jy kan meer te wete kom oor LibreOffice op die Afrikaanse Wikipedia by http://af.wikipedia.org/wiki/LibreOffice
Volg ons op Twitter (@VertaalAfr), Facebook, of teken aan by ons webjoernaal. Jy is ook meer as welkom om lekker saam ons te klets in ons kletskamer!

Voorspoed en Geniet!
Die Span
Vertaal na Afrikaans
Geskryf deur George Stevenson
Geredigeer deur Bernhard Breytenbach, Hügo Krüger en "user"

Friday 3 June 2011

Gebruik Afrikaans: Firefox Webblaaier

Goeie dag Vertaal na Afrikaans!

Dis hoog tyd om ontslae te raak van al hierdie volksvreemde terme en Afrikaans weer deel te maak van elke aspek van ons lewe. Gelukkig is daar mense wat hard werk om sagteware te vertaal sodat ons dit in ons moeder taal kan gebruik en maklik kan verstaan.

Vandag gaan ons kyk hoe om Firefox ('n webblaaier) in Afrikaans te kry, sowel as 'n Afrikaanse spel toetser by te voeg.
  1. Eerste gaan ons gou Firefox aflaai. Gaan na http://www.mozilla.com/af/firefox, en klik op die "Firefox 4 Gratis Aflaai" knoppie.
  2. Nadat dit afgelaai is, maak die lêer oop en volg die paar maklike stappe om Firefox te installeer.
  3. En dis dit! Begin Firefox en geniet 'n splinter nuwe web ervaring in 'n volledige Afrikaanse webblaaier.
Alles vind deesdae plaas in jou webblaaier. Epos, Facebook, webjoernale, klets, en nog vele meer! En soms is jy net nie seker hoe om daai woord te spel nie. Firefox kan in baie verskillende tale jou spelling vir jou toets terwyl jy daai vinnige status verander...
  1. Wanneer jy in Firefox is, gaan na https://addons.mozilla.org/af/firefox/language-tools.
  2. Langs Afrikaans (Heel bo) klik op "Install Dictionary".
  3. Klik "Continue to Download".
  4. Klik "Add to Firefox". Daar sal 'n boksie regs bo verskyn. Klik "Toelaat".
  5. Wanneer dit klaar afgelaai is, klik "Herbegin Firefox"
  6. Regs klik enige teks veld en sê "Toets Spelling".
  7. Indien jy meer as een woordeboek bygevoeg het, regs klik weer die teks veld en se "Tale" en kies die taal wat jy wil toets.
En daar het julle 'n Afrikaanse Webblaaier wat ook Afrikaanse spelling kan toets.

Indien julle enige probleme ervaar, is julle meer as welkom om vir hulp te vra in die kommentaar seksie hieronder, of sluit aan by ons IRC kanaal.


Volg ons op Facebook of Twitter (@VertaalAfr) om seker te maak jy mis niks nie!


Die Span
Vertaal na Afrikaans

Wednesday 1 June 2011

Wie is ons

Vertaal na Afrikaans is 'n Afrikaanse gemeenskap met die doel om Afrikaans te ontwikkel en te gebruik. Die gemeenskap is vir almal iemand vat Afrikaans kan praat!

Bernhard Breytenbach, die stigter van Vertaal na Afrikaans, was verstom om te hoor mense weet nie dat hulle hul rekenaar en ander tegnologie in Afrikaans kan gebruik nie. Hy het toe besluit om hierdie groep te stig om die Afrikaanse gemeenskap saam te trek en om Afrikaans te bevorder en te beskerm deur die volgende probleme te adresseer:
  1. Die gemeenskap bewus te maak van huidige Afrikaanse projekte.
  2. Die gemeenskap aan te moedig om verskeie programme, webwerwe, en ander produkte in hul moedertaal te gebruik.
  3. Om die gemeenskap deel te maak in besluite wat die toekoms van die taal bepaal. (Dit is jou taal, dit is jou keuse)
  4. Om onvertaalde begrippe maklik te vertaal deur die opinie van die gemeenskap in ag te neem.
  5. Om vertaling vinnig, maklik en akkuraat te maak deur die gemeenskap te kry om saam te werk aan een projek op 'n slag as die huidige 'een persoon wat alleen op 7 projekte werk'.
  6. Om besluite vas te vang sodat hul weer later gebruik kan word.
  7. Belangrike dokumente en programme te vertaal en te gebruik.
Daar is dus verskeie vlakke wat lede kan betrokke raak by Vertaal na Afrikaans om hul eie lewe te verbeter, en die gemeenskap op te bou.

Vertaal na Afrikaans is tans besig om die webwerf te skep wat meeste van hierdie moontlik sal maak. Ons beplan om hierdie gereed te hê in Agustus 2011. Indien jy belangstel om aktief betrokke te word by die projek self of indien jy enige vrae het, kontak Bernhard Breytenbach gerus by bernhard@vertaalafrikaans.za.net

In die tussentyd, sluit aan by ons Facebook blad, volg ons op Twitter, volg ons webjoernaal, en kyk uit vir enige interessante nuus van hoe om jou lewe 'n bietjie meer Afrikaans te maak!

Groete,
Vertaal na Afrikaans